Wednesday, March 25, 2009

Van die Landgoed bestuurder/wynmaker - From the Estate Manager/ Winemaker Beste Huiseienaars

Pars 2009 is iets van die verlede. Die wyne is droog gegis en is almal besig met appelmelksuur gisting. Kleure is besonders mooi vanjaar en dit wil voorkom of dit die algemene tendens is regdeur die bedryf. Die oes was ligter as die verwagte en kan toegeskryf word aan die warm klimaat in Februarie en Maart. Ook het ons redelike streng oesbeheer praktyke gevolg om kwaliteit na te streef en het ons slegs een tros per loot gelos. Die wingerde is besig om te vorm en ons sien uit in die toekoms om wyne van hoogstaande gehalte te maak. Die port aand was weereens ‘n groot sukses en ons kan net dankie sê vir die huiseienaars wat hier was. Eienaars het self gebraai en piekniek op die gras voor die gebou gehou als om ‘n ware Croydon fees te skep. Mooi so, so doen ons dit mos. Moenie volgende jaar misloop nie en kyk na die foto’s op die blog.

As jy op die N2 ry na Somerset Wes uit die Kaap se rigting sal jy sien hoe ons wyndorp besig is om te vereis. Tans is daar vyf huise onder konstruksie en nog drie wat begin. Die planne kom mooi in en ons kan nie wag om die huise wat beplan word te sien opkom nie.

Ons nuwe sekuriteit maatskappy het suksesvol oorgeneem en daar word voortdurend gepoog om die diens te verbeter. Dit alles om Croydon ‘n veilige hawe te maak vir almal wat hier bly. Dit is met blydskap om te kan sê dat daar geen ongeruimdhede gerapporteer is nie. Dankie vir die samewerking van julle as huiseienaars.

Die Seeff agente is hard aan die werk en dit wil voorkom of daar stadig maar seker meer belangstelling getoon word vanuit die mark. Ons het nou ons eie vlae wat wapper en dit trek aandag. Hou hulle nuusbriewe dop vir meer inligting.

Winter kan nou gerus aanbreek. Ons kan swaarlik byhou by al die water gee op die landgoed. Gelukkkig is paasnaweek om die draai en weet ons Kapenaars mos dis die draaipunt. Herfs het al sy kleure begin wys en die luilekker herfsdae lê voor. Wat ‘n pragtige uitsig oor die berge bederf ons nie hier elke dag nie, iets om na uit te sien as jy nog nie hier bly nie.

Dankie vir die getroue ondersteuning en samewerking van julle as huiseienaars. Ons poog voortdurend om ons diens te verbeter en verwelkom jul insette. Tot ‘n volgende keer wees gegroet vanaf Croydon.

Corius Visser